Hlabisa loop stadig en gebukkend in die straat af. Hy dink aan sy ma wat by die huis wag. Sy ma vir wie hy sorg. Hlabisa is ‘n sterk jong man. Hy het skaars ‘n maand terug 22 geword, maar waar hy in die straat na die taxistaanplek toe loop, lyk dit asof sy liggaam swak en uitgeput is.
Die eienaar van die huis waar Hlabisa as ‘n tuinier gewerk het, gaan emigreer. Die huis is teen ‘n winskoop in die mark gesit, verkoop en in die proses het Hlabisa sy werk verloor. Die nuwe eienaar het ‘n tuinier in diens.
Hlabisa het met die tyding dat hy sy werk gaan verloor, alreeds begin soek na ‘n ander huis waar hy kan werk as ‘n tuinier. Werk is skaars. Die rentekoerse en petrolprys styg. Alles word duurder en mense se geld moet verder gerek word. ‘n Tuinier is net nog ‘n uitgawe wat die mense nie kan bekostig in die tye wat hulle die gordel stywer moet trek nie.
Hlabisa se ma lê die meeste van die tyd in die bed. Haar immuunstelsel is af. Haar lyf is maer, die slymerige hoes wat sy het klink nie goed nie en sere slaan op haar lyf uit.
Hlabisa se pa is in die tronk. Hy het eers op die myne gewerk, maar nadat hy die siekte vir sy vrou gegee het, het hy nie weer teruggekom nie. Later het die polisie hom gesoek in verband met transito-rooftogte en maande later is hy in opgespoor, in hegtenis geneem, verhoor en gevonnis.
Dit is spitsverkeer. Die motors vul die strate soos ‘n ry miere wat stadig voortbeweeg. Die taxistaanplek is bedrywig. Hlabisa voel aan die laaste paar note en kleingeld in sy broeksak. Hy haal R8 se munte uit en hou dit styf in sy hand vas. Die taxis laai vinnig en vertrek in alle rigtings in.
Hlabisa vind ‘n taxi wat na die Princess-plakkerskamp toe gaan. Hy neem plaas op ‘n oop sitplek en wag saam met drie ander passasiers en die drywer totdat die taxi vol gelaai is. ‘n Man wat na dagga en bier ruik neem plaas langs Hlabisa.
Die taxi trek rukkerig weg en dampe wat sterk na enjinolie ruik borrel by sy uitlaatpyp uit. Die drywer ry voor die ander voertuie in toe hy in die pad in draai. Die taxi se regter spieëltjie makeer. Iemand toet vies. Die drywer ry rustig voort. Die man langs Hlabisa vroetel met ‘n plastieksak en haal dan ‘n quart Black Label uit. Hy byt die prop met sy tande af en sluk diep. Hy breek ‘n suur wind op.
Die taxi kruie voort in Ontdekkersweg. By ‘n verkeerslig wat pas rooi geslaan het, toet die drywer net en ry oor.
Waar die pad verby die Florida Junction winkelsentrum loop, wil een van die passasiers afklim. Die drywer trap rem en stop in die pad. Die vrou klim tydsaam af terwyl die verkeer agter die taxi ophoop. Die taxi trek weg nadat iemand anders weer opgeklim het. ‘n Motoris toet weer ongeduldig toe die taxi reg voor hom in ry met die wegtrekslag.
Die man langs Hlabisa sluk weer diep uit die bottel bier en stamp aan Hlabisa met sy elmboog wanneer hy die bottel laat sak. Hlabisa gee hom ‘n vuil kyk. Die man glimlag net breed en mompel iets van “..bonus by die werk gekry…” voordat hy in die plastieksak grawe, nog ‘n bottel te voorskyn bring, dit oopmaak en vir Hlabisa aangee. Die man stamp sy bottel hard teen Hlabisa s’n, sê “Cheers!” en sluk die skuim wat uit die bottel begin borrel.
Aag, wat tog, dink Hlabisa en sluk diep uit sy bottel. Hy sluk dat die borrels sy keel brand en die are in sy nek bult. Die bier stroom in sy keel af. Hy sluk totdat die asemnood hom dwing om die bottel weg te neem van sy lippe af. Die bottel is amper leeg.
“Yo! Yo! Yo!” sê ‘n vrou wat agter Hlabisa sit toe hy net vinnig asem skep en die res van die bier afsluk.
Die taxi se flikkerligte werk nie. Die drywer verwissel bane tot groot frustrasie van die ander motoriste en trek by die parkeerterrein van Westgate in. ‘n Paar passasiers klim af en ander vul hulle plekke. Die taxi trek weer met ‘n gerammel weg, jaag om die verkeerslig groen te vang en tel vinnig spoed op teen die afdraande af, net om weer teen ‘n slakkegang by die opdraande op te sukkel.
By die Princess-plakkerskamp klim die meeste van die passasiers uit. Die man met die bier in die plastieksak slinger in ‘n rigting in.
Hlabisa stap met ‘n kronkelende stofpad aan na sy plakkershut. Hy stap verby ‘n ry Spaza-shops. Hy voel die bier in sy kop en wou net ‘n slymerige straal na die Spaza-shop van die Somaliër toe spuug, toe hy iets gewaar wat sy aandag trek. Hlabisa staan vir ‘n oomblik stil en loop dan haastig weg na sy eie tuiste.
Dit is al sterk skemer, maar die son het die sinkhuisie die hele dag warm gebrand. Die sweet tap teen Hlabisa se gesig af wanneer hy die krakende deur agter hom toedruk. Hy weet dat die koue later in die aand deur die sinkplate gaan dring. Die vierkantige sinkhuisie is in twee verdeel met ‘n houtbord wat beter dae geken het. In die agterste vertrekkie rammel sy ma se borskas. Hlabisa soen sy ma op die voorkop en hou haar hand vas. Sy maak haar oë oop en groet hom met ‘n stem wat soos die fluistering van die wind klink. Hy maak sy ma toe met die grys kombers en stap dan terug na die ander vertrekkie waar ‘n dun matras op die grond lê, ‘n bondel hout in die hoek staan en ‘n Primus op ‘n lendelam tafeltjie. Op die vloer langs die tafeltjie is daar ‘n groot pampoen, ‘n kan water, ‘n swartgebrande pot en ‘n sak Ace mieliemeel. Drie groot aartappels met groen uitlopers lê teen die pampoen. Op ‘n houtrakkie teen die sinkmuur staan ‘n halwe kers in ‘n afgesnyde Fanta-blikkie, ‘n botteltjie ingelegde beet en ‘n enkele blikkie Chakalaka. ‘n Boksie vuurhoutjies en ‘n ou koerant lê op die vloer langs die matras. Teen die oorkantste muur staan ‘n “Made In China” radio op die vloer. Langs die radio is daar ‘n boks met ‘n paar borde, twee vurke, ‘n porselein koffiebeker en drie blikbekers in. Op die matras self is daar ‘n enkele grys kombers netjies opgevou.
Hlabisa skakel die radio aan. Die omroeper van iKwekwezi FM se stem vul die bedompige plakkershut.
Hlabisa neem die helfte van die bondel hout, ‘n stuk koerantpapier, die boksie vuurhoutjies en knyp dit onder sy arm vas terwyl hy die deur oopmaak. Die wind het genadiglik gaan lê. Die son het al gaan slaap en die naglug is koel. Hlabisa pak die bondel hout op ‘n hoop uitgebrande as, druk die koerantpapier onder die hout in, trek ‘n vuurhoutjie en steek die papier aan die brand. Die hout is kurkdroog en vat gou vlam sonder dat Hlabisa die vuur hoef aan te blaas.
Toe die geel vlamme met groot tonge aan die hout lek en die droë hout knetter, gebruik Hlabisa ‘n houtstomp on die brandende hout op ‘n hoop te krap en vier groot klippe rondom die vuur te plaas.
Hlabisa maak die deur van die plakkershut saggies oop sodat sy ma nie wakker word nie, vul die swartgebrande pot en ‘n blikbeker met water uit die kan, neem die sak Ace mieliemeel en ‘n vurk en stap na buite.
Hy plaas die pot met die water op die klippe. Hlabisa spaar hout deur die pot water reg oor die vlamme te plaas en nie te wag totdat die hout kole gemaak het nie.
Wanneer die water in pot begin kook, neem hy die houtstomp en krap die vuur oop. Die vlamme helder op, maar Hlabisa druk sy vingers in die blikbeker en spat die vlamme dood. Hy sprinkel nog water uit die blikbeker op die gloeiende kole. Hy temper die vuur. Hy maak die vuur sag sodat die pap nie sal brand nie. Hy skep met sy hand meel uit die sak, voeg dit by die kokende water en roer dit met die vurk. Hy skiet nog water met sy vingers onder die pot in op die kole. Die pot het nie ‘n deksel nie. Hy roer die pap met die vurk. Wanneer die water verdamp het en die vlamme begin lek aan die pot, skiet hy nog water met sy vingers op die vuur. Die pap is slap en hy voeg nog meel by. Hy roer dit met die vurk. Die reuk van mieliepap vul die stil naglug.
Wanneer die pap gaar is, gebruik Hlabisa sy hemp om die pot vinnig van die vuur af te trek. Hy vou sy hemp dik, tel die pot op en dra dit die plakkershut binne. Hy plaas die pot vinnig op die vloer toe die hitte te erg deur die opgevoude hemp begin kruip. Hy blaas sy vingers.
Terwyl Hlabisa wag dat die pot pap effens afkoel, maak hy die blikkie Chakalaka oop. Hy haal twee borde uit die boks en skep van die Chakalaka in elke bord. Hy rol met die vurk in die pot pap en skep ‘n stewige porsie in elke bord.
Hlabisa se ma is swak, maar sy kan regop in die bed sit en self eet. Hlabisa sit langs haar op die bed. Af en toe blaas hy die kos koud vir sy ma. Hlabisa en sy ma eet in stilte. Dit is net die musiek wat krapperig uit die radio trek agter die houtafskorting.
Hlabisa dink diep terwyl hy eet. Al is sy ma siek, weet sy wanneer haar kind diep dink. Sy vra hom nie uit nie.
Hlabisa dink aan sy pa se vriende. Van hulle is al uit die tronk of was nooit gevang nie. Hulle ry met duur gekaapte motors rond. BMW’s en Audi’s en Mercedes’e wat blink. Hulle dra baie goue kettings om hulle nekke. Hulle drink duur whisky en brandewyn. Die pistole wat onder hulle klere weggesteek is, is geolie en gereed vir skiet. Hulle dagga bevat nie pitte nie. Hulle kokaïen is suiwerwit, hulle klere en sonbrille is nie namaaksels nie, maar die ware Jakob soos die wat in die winkels van Sandton verkoop word. Hulle meisies is mooi, jonk en meer as gewillig.
Hlabisa dink. Hy dink en dink. Hy kan by sy pa se vriende aansluit. Hy kan geld maak. Hy kan respek kry. Hy kan dan vir sy ma sorg. Hy hoef nooit weer skaam te wees vir ‘n meisie nie. Hy sal dan geld en aansien hê. Die mense sal ontsag vir hom hê.
Of hy kan lewenslank kry soos sy pa…
In sy hart het Hlabisa al geweet wat hy besluit het. Dit is waarom hy nie dikmelk of ‘n stukkie vleis gekoop het nadat hy by die Somaliër se Spaza-shop verbygeloop het nie. Die Somaliër wat almal altyd sê eintlik ‘n onderwyser was in sy eie land. Hlabisa het na die handelsware gekyk wat die Somaliër uitgestal het, en sy ma se woorde het by hom opgekom.
“Jy is nie dom nie, Hlabisa. Ek het net nie geld om jou langer skool toe te stuur nie.”
Hlabisa dink aan die Somaliër se winkeltjie voordat hy later die nag aan die slaap raak.
Hlabisa staan vroeg die volgende oggend op. Hy maak van die oorskiet pap warm vir hom en sy ma. Daarna stap hy weer met die kronkelende stofpaadjie na die Somaliër se Spaza-shop. Die plakkerskamp ontwaak. Taxis toet al opgewonde en mense stroom om ‘n taxi te kry werk toe.
Die Somaliër is nog besig om sy ware uit te pak, en kyk agterdogtig na Hlabisa toe hy daar opdaag. Dinge gaan nie goed met die onwettige immigrante in Suid-Afrika nie. Hlabisa staan geduldig en kyk hoe die Somaliër sy ware uitpak. Sy moed sak tot in sy skurwe voete wanneer die Somaliër klaar is. Die twee items wat hy wou koop is nie daar nie.
“The pick and the spade?” vra Hlabisa terwyl hy weet dat die twee items heel waarskynlik reeds al verkoop is, maar hy hoop met sy hele hart dat dit nog beskikbaar is.
“Yes? The pick and the spade. In the back,” antwoord die Somaliër
“Then why don’t you pack it out?” asked Hlabisa.
“Been here for more than two months. Nobody bought them,” sê die Somaliër oor sy skouer terwyl hy die blikkies sardientjies, bottels kookolie, sakke rys en bokse Omo-waspoeier op die rakke netjies pak.
Hlabisa dink vinnig. Hy onthou dat die prys vir die graaf en die pik die vorige dag R45 elk was. Die implemente het wel oud en geroes gelyk, maar verder niks makeer nie. ‘n Graaf en pik wat blink, word in elk geval nie gebruik nie. Hy dink aan die note in sy sak. ‘n R50, ‘n R20 en ‘n R10.
“If they do not sell, I’ll give you R30 for them both,” sê Hlabisa.
Die Somaliër dink ‘n oomblik na. Hy is bang vir die vreemdelingehaat wat orals kop uitsteek. “OK. R30 for the spade and the pick,” sê hy en loop agtertoe om dit te gaan haal. Hlabisa keer hom egter voor.
“And another R50 for some advice.”
“What?” vra die Somaliër verbaas.
Hlabisa dink vinnig. “And a 20% partnership for you in my new business.”
Die Somaliër dink ‘n oomblik na en besluit dan dat hy eerder sal moet luister. “Tell me about it.”
Hlabisa vertel en verduidelik so goed soos wat hy kan. Die Somaliër luister. In sy agterkop spring die syfers rond terwyl Hlabisa praat. Hy was immers ‘n Wiskunde onderwyser.
Dakshesh Neeharika, die Somaliër, besluit hy kan nie skade ly nie, en na ‘n goeie sessie van argumente uitruil en onderhandelinge, vergroot hy sy aandeel na 30%, en dan word die graaf en pik verniet deur Hlabisa gebruik en hy wat Dakshesh is, sal die bemarking van hulle nuwe onderneming doen. Die twee kom ooreen. Op die Donderdag, 24 Julie 2008, skud hulle hande.
**
Dakshesh en Hlabisa werk baie hard gedurende die volgende paar weke. Augustus 2008 staan nie vir hulle stil nie. Die tyd loop stadig nie, die dae en ure hardloop verby. Teen die 15e Augustus is albei moedeloos. Hulle onderneming vorder nie. Om die waarheid te sê, hulle is besig om op ‘n verlies te werk. Hulle het net eenvoudig te min kliënte om ‘n wins te maak. (Hulle het net een kliënt wat in ‘n townhouse in Wilgeheuwel bly.)
Hlabisa se kop hang moedeloos. Dakshesh se kennis loop uit. Die twee is in sak en as.
Dakshesh se kop staan terug Somalië toe, of enige ander Afrika land, en Hlabisa moes teen wil en dank vir sy ma vertel dat hy plat teen die grond is, dat hy nie werk het nie en dat sy laaste hoop besig is om ‘n baie groot mislukking te word.
Hlabisa se ma het net gefluister, skaars hoorbaar. “Fokus op een dag op ‘n slag.”
Dit was eers teen die volgende oggend, na ‘n slaaplose nag, dat Hlabisa ‘n blink idee gekry het. Sy ma het mos gesê hy moet op een dag fokus, maar hy gaan op sewe dae fokus.
Hlabisa het besluit hy gaan op 1-7 September 2008 fokus. Vanaf lentedag, Maandag 1 September 2008 tot Sondag 7 September 2008.
Hy dra sy nuwe plan ook baie vinnig oor aan Dakshesh.
“Mm, yes,” antwoord Dakshesh voordat hy na die biblioteek toe gaan om meer uit te vind oor Harpephyllum caffrum, die boom van die jaar.
“Yes, well I am not sure,” gee Dakshesh later terugvoer. “The Wild Plum seems to be more suitable to warm coastal areas.”
Die teleurstelling en trane gaan lê vlak in Hlabisa se oë.
“Well that does not mean the end of it all. We’ll simply promote indigenous trees suitable for the Highveld region,” sê Dakshesh. “I’ll do some more research.”
Dakshesh doen sy navorsing en kom vorendag met ‘n lang lys inheemse bome wat geskik is vir die Johannesburg omgewing.
Die vennootskap Hlabisa en Dakshesh wil net weer moed verloor, toe sake begin optel.
Hulle het vir die 1ste September agt bome om by ses verskillende huise te plant. Hulle beker loop egter oor toe ‘n ontwikkelaar hulle aanstel om meer as 300 bome by ‘n nuwe kompleks wat pas voltooi is, te plant.
Albei vennote besef onmiddellik dat een werker, een graaf en een pik nie voldoende gaan wees nie. Om nie eers te praat van al die boompies nie. Waar gaan hulle, sonder noemenswaardige kapitaal en enige kredietwaardigheid, soveel boompies aanskaf?
Dakshesh maak somme. Hy neem ‘n deposito vir die werk en beding ‘n reuse afslag by ‘n kwekery vir die 300 boompies. Die geld maak dit naelskraap. Hy leen geld by familie vir ekstra grawe, tuinvurke en pikke.
Hlabisa stel tydelike tuiniers, wat werkloos is, aan teen ‘n eenmalige vergoeding per dag. Een van die tuiniers kry werk as ‘n bode en algemene drywer intussen, maar hy boek homself siek af. ‘n Ander bly net weg en gebruik die taxis en een of ander fiktiewe staking as ‘n verskoning.
Op die 1ste September daag twee werkers glad nie op nie, want hulle het die vorige dag te veel bier gedrink en kon nie betyds opstaan nie. Hlabisa en Dakshesh gryp elkeen ‘n graaf en spring self in.
Die Maandag-oggend elfuur is daar ‘n kort funksie by die nuwe kompleks. Al 300 boompies is netjies geplant en natgelei. Die reuk van vars grond hang in die lug en die jong boompies staal hulle teen die koue wind wat waai.
Dakshesh maak sy somme. Hy slaan die laaste knoppies op sy sakrekenaar en druk die is-gelyk-aan teken. Die sakrekenaar spoeg ‘n antwoord uit.
“Yes,” sê Dakshesh. “Not too bad, really not too bad.”
“How much?” vra Hlabisa ongeduldig.
“Exactly R176-34 each, after all the expenses are subtracted,” antwoord Dakshesh.
“What!?”
“Yes, but you must keep in mind I have subtracted money for three second hand lawnmowers in a good condition, because after the ceremony today I have landed a contract to do the gardening for the whole complex, as well as a few houses. And that is just the beginning. Tomorrow we have another complex to do, then if everything goes well, we will have some serious cash in our pockets.”
Hlabisa het daardie aand lekker geslaap.

Related Articles
No user responded in this post
Leave A Reply