Die wind waai die sout uit die onstuimige see. Fyn druppels reën slaan teen die wasige ruite vas en loop in dun straaltjies teen die glas af. Buitekant pluk die wind aan ‘n stuk sinkplaat by die kampie waarin die boerbok bly. Die paraffienlamp gooi ‘n geel lig teen die wit mure. ‘n Mot dwaal tussen die dak en die lamp rond. Die wind waai onder die deur in en vul die huisie met ‘n ysige koue. Die lamp se beskermde glas is al swart gebrand aan die binnekant. Die paraffien lê laag onder in die houertjie.
Lena sit by die kombuistafel. Die hout van die ruwe blad voel grof onder haar hande. Sy wring haar vingers in mekaar en staar na die swart nag deur die dowwe ruit. Voor haar op die tafel staan die leë fles waarin sy gewoonlik haar geld bêre. Dis nou as daar iets ekstra is om weg te sit. Sy brei haar vingers stomp. Gewoonlik klak die breipenne saans en die bolle wol raak vinnig kleiner. Lena sug diep en staan op.
Sy maak die koolstoof oop en begin ‘n bondel droë hout daarin te pak. Sy frommel die voorblad van gister se koerant op en trek ‘n vuurhoutjie. Die papier raak aan die brand en gou begin die vlamme aan die hout te lek. Die hitte vul die kombuis. Lena vul die groot gietysterpot met water en plaas dit op die warm gedeelte van die stoof. Die lem van die mes waarmee sy die groente begin skil is al dun geslyp.
Lena voeg die gesnyde groente by die water en dan ‘n paar groot sopbene. Die pyn in haar linkersy knaag aan haar binneste en sy gaan sit weer op die stoel by die kombuistafel. Sy moes die sop eerder al opgesit het, maar besluit om dit net sowat twee ure te laat kook. Dan kan sy eet en die sop verder deur die nag op die warm plaat laat staan om stadig te prut. Sy sal net af en toe ‘n stukkie hout in die stoof steek.
Lena kyk weer na die leë fles en staar dan weer by die ruit uit. Sy dink aan haar man, Johnny. Haar man wat so verskriklik suip. Haar man wat die laaste geld uit die fles gevat het om drank te gaan koop. Hy sal seker netnou weer by die huis instrompel en dan sal sy weer deurloop onder sy tong en sy vuiste.
Lena krimp ineen toe sy hoor hoe die hekkie kraak. Sy kan hoor hoe swets Johnny onderlangs en dan kraak sy voete oor die gruis tot by die voordeur. Hy sukkel om die deur oop te sluit. Wanneer die deur oopswaai, warrel die nat, koue wind by die huis in. Die huis ratel toe Johnny die deur agter hom toeslaan. Hy slinger reguit kombuis toe.
Lena kan sommer dadelik sien Johnny is stukkend dronk. Hy is onvas op sy voete, sy oë is rooi en staan wild en styf in sy kop.
Johnny slinger na die kombuistafel toe. Hy haak af en slaan die leë fles eenkant toe. Die glas spat aan stukke teen die muur. “Jou teef! Jou fokken, teef!” skel hy op haar. “Jy wat altyd die bliksemse geld wegsteek vir my!”
Lena koes, maar Johnny se plathand tref haar teen die wang. Sy kan voel hoe die warm brandgevoel oor haar wang versprei. In haar mond kan sy die bloed proe waar die sagte vleis van haar mond stukkend gesny is teen haar tande.
Johnny mik om haar in die linkersy te slaan met die vuis. Sy skuif weg en sy vuis tref die harde hout van die tafelpoot. Johnny swets. “Eina, fok, jou poes!” Die vel oor sy kneukels is oopgekloof .
Hy gryp haar aan die hare en ruk haar kop agteroor. Die spiere in haar nek rek. Johnny se vuis tref haar vol op die ribbes. Sy voel hoe die asem uit haar longe geruk word. Die brandpyn skiet deur haar sy tot agter in haar rug. Sy ruik die drank aan sy asem. Die dagga wat hy gerook het laat ‘n skerp reuk in haar neus opslaan.
Johnny loop na die stoof toe terwyl Lena saggies snik. Hy lig die deksel van die pot af op en gooi dit eenkant toe.
Deur haar trane sien Lena die swaar pan met die dik koperboom wat langs die stoof teen die muur hang. Sy staan op. Sy ignoreer die pyn in haar lyf. Johnny staan met sy rug na haar toe. Sy haal die pan van die muur af en toe Johnny omkyk, swaai sy die pan met al haar krag. Daar is ‘n dowwe kraakgeluid toe die pan hom teen die kop tref. Sy skedel duik in en met die tweede hou laat die geweld waarmee die pan hom teen die kop tref, sy linkeroog by die oogkas uitval.
Johnny druk met sy hand op die vuurwarm plaat van die koolstoof en sak dan op die vloer neer sonder om ‘n geluid te maak. ‘n Plas donker bloed vorm onder sy kop en kruip stadig oor die vloer.
Lena begin ruk en bewe. Sy voel hoe sy naar word. Buitekant waai die wind sterker. Sy kan hoor hoe tref die branders die rotsbank.
Lena vat Johnny aan die arms en sleep hom by die huis uit, oor die gruis, oor die nat sand van die strand tot by die rotse. Die see maal en druis en kook. Sy sleep Johnny oor die rotse en toe die see terugtrek, gooi sy die lyk in die see in. Die water maal die lyk teen die rotse vas.
Lena proe die sout in haar mond wanneer sy terugloop huis toe. Die wind en reën wis al die spore uit.
Wanneer sy die deur agter haar toemaak, voel haar bene lam.
Twee dae later bring ‘n geregsdienaar die tyding. Hulle het die lyk van haar man gevind, uitgespoel by die baai en gevind deur ‘n vakansieganger wat vroegoggend gaan draf het. Die lyk is amper onherkenbaar. Lena gaan ken die lyk uit en bevestig dat dit Johnny is.
Die nuus versprei vinnig en die mense aanvaar dat Johnny dronk was en die see hom van die rotse af geslaan het.
Dit is vroeg-oggend toe Lena besig is om ontbyt te maak dat daar ‘n harde en dringende klop aan die deur is. Die reuk van gebakte eiers in die pan vul die huis.
Die speurder praat eers oor dit en dat voordat hy by die doel van sy besoek kom. Die lykskouing het aangedui dat Johnny se hand gebrand het kort voordat hy dood is.
“Hy was dronk. Vra sy vriende by wie hy gesuip het of hy daar gebrand het. “
Die speurder het net aan sy sigaret gesuig. “Ja, u man was bekend daarvoor dat hy te veel gedrink het. Wat sou hy in die nag op die rotse naby die see gaan doen het?”
Lena het die speurder nie geantwoord nie. Sy het net die pan van die stoof af gehaal en die eiers op dik snye witbrood geskep. Die speurder het koffie gedrink en is later daar weg. Sy instink het vir hom gesê dat Lena iets met haar man se dood te doen gehad het, maar hy kon nooit iets bewys nie.
Lena het na ‘n paar jaar weggetrek en niemand het weer van haar gehoor nie.


Related Articles
1 user responded in this post
Die verhaal is die verhaal van baie vroue in hierdie land. Dit eindig net baie keer anders.
Leave A Reply