My ma dring daarop aan dat my vrou vir my ma “Ma” noem. Maar as ek my vrou se ma “Ma” noem, dan is my ma ongelukkig want my ma sê sy is my ma en nie my vrou se ma nie.
Die Blog waar Die Wolf in Afrikaans sy bek rek.
5
Sep
My ma dring daarop aan dat my vrou vir my ma “Ma” noem. Maar as ek my vrou se ma “Ma” noem, dan is my ma ongelukkig want my ma sê sy is my ma en nie my vrou se ma nie.
11
Apr

As die hitte my vasklem en die nag my omhul,
die sweet oor my uitslaan en my liggaam ruk en bewe,
my gedagtes deurmekaar raak en angs my oorval,
weet ek dat ‘n Engeltjie lief is vir my.
Haar koel handjies streel die pyn weg,
vee die bewe stil en troos my.
Haar blink vlerke sprei oor my, waai my koel en skitter.
Sy vat die nag weg en laat die sonstrale oor my dans.
Haar glimlag breek die kettings wat my vasklem.
Sy laat my sweef in die lig van geluk.
Na ‘n plek waar alles skitterwit is, koel water vrolik kabbel en Engele strelend sing.
Die wolwe met hul vlymskerp tande jaag sy weg en bring sagte wit hasies wat teen my lê.
Sy haal die dorings uit my voete en laat my loop op ‘n sagte tapyt van groen gras.
Sy draai ‘n wit kleed om my en saam sweef ons deur die wolke.
Vry van al die pyn en hartseer.
Net ons en die klein wit hasies en die Engele wat sing.
Sy laat my so baie kalm en rustig voel.
Diamante skitter aan haar hals, haar oë skyn van liefde en in haar vlerke weerkaats die wit lig en vorm ‘n reënboog rondom haar.
Die geur van rose waai deur die lug en sprei saam met haar liefde oor die goue kandelare waarin klein kersies brand.
Ons sweef oor die mere wat glinster van die suiwer goue water, en verdwyn dan saam in die wolke van geluk.
Verby die wolwe en die kettings, verby die donker van die nag en die hitte, verby die hartseer en pyn, verby die angs en die skrik.
Sy vat my hand en ons sweef nog verder. Sy laat my nog kalmer en rustiger voel. Alles is helder en vrolik. Perfek.
Die ander Engele dans en sing betowerend.
Sy hou my vas en haar liefde straal my binne, vir ewig maak sy my gelukkig.
Die wind wat oor ons waai neem al die pyn en hartseer weg.
Dis net my geluk wat saam met haar bruis.
Sy is my lewe my liefde en my geluk.
11
Apr
Suid-Afrika: Waar is die reënboog?
Ek het die reënboog in die Kaap gaan soek, maar dit was donker daar. Die krag het getrip.
Dalk is die reënboog vermis. Ek kon nie uitvind nie, want die dossier is weg.
Ek het toe die Springbokke gaan vra waar die reënboog is, maar hulle het nie geweet waar die bal is nie, nevermaaind die reënboog.
Ek wou die president gaan vra het, maar hy is in die buiteland en sal my dus nie kan sê nie.
Ek het suurlemoene, knoffel en beet in die versapper gemeng, maar dit het soos kots gelyk en nie soos die reënboog nie.
By die hospitaal kom ek agter die reënboog het dalk AIDS gehad en is lankal begrawe.
Ek het in ‘n kind se oë gekyk of die reënboog daar is, maar sy pa is vir R100 vermoor en die reënboog was nie in sy hartseer ogies nie.
Toe het ek gedink: Miskien moet ek ‘n vrou gaan vra. Ek kon nie die reënboog kry nie want elke 26 sekondes word ‘n vrou verkrag. Watter vrou se oë sal in sulke omstandighede vreugde uitstraal?
Ek het die reënboog in Johannesburg gaan soek, maar dit is seker lankal ge-hijack.
In die plakkerskamp kon ek ook nie die reënboog kry nie. Die werk en kos is te skaars. Die wind waai koud deur die bruingeroeste sinkplate.
In Sandton was net snobs met dik tjekboeke, stywe bolippe en vrouens wat te veel parfuum dra.
Op die hoek van die straat was net swartsakke, lemoene en ‘n hoer.
Ek het by die stasie gaan wag, maar die reënboog is seker van die trein afgegooi.
Dalk hike die reënboog êrens langs die pad omdat die petrolprys gestyg het?
Of ry dalk in die oorlaaide taxi met die gladde bande en dronk bestuurder?
Ek het die reënboog in my kredietkaart gaan soek, maar daar kon ek net rooi vind en het dit vinnig gebêre.
Ek het in die tronke gaan kyk, maar daar is dit oorbevolk.
In die kerke het ek onmin gevind. Verdeling. Twis. Afstigting, herstigting en ontstigting.
Langs die kus het ek net ‘n golflandgoed gevind met ‘n hoë heining. Op die strand ‘n geroeste bordjie wat waarsku oor misdaad op afgeleë plekke. Geen reënboog nie.
Ek het die tsotsis gaan vra waar die reënboog is. Hulle het net dagga gerook en geld gebedel. My selfoon uitgekyk.
Die reënboog is ook nie in Australië nie, want daar was chaos toe hy ‘n pasoort wou kry. Wat sal die reënboog in elk geval in Australië gaan soek, mate?
Ek het op die net gaan soek en vir Google gevra: Waar is die reënboog? , maar kon nie ‘n antwoord vind nie.
Waar is die reënboog? Yahoo het nie ‘n clue nie.
Ek wou nog verder soek, toe crash Windows.
Ek het op my selfoon gekyk of iemand nie dalk die reënboog met MMS aan my gestuur het nie. Die battery was pap en die tweepuntprop van die laaier het my moerig gemaak.
Ek het in Londen gaan soek, en moes my bottel kraanwater by die huis los. Dit het in elk geval nie baie skoon gelyk nie.
Londen is ‘n nat, koue plek met min sonskyn. Hulle soek blykbaar daar ook na die reënboog.
Ek het besluit om huiswaarts te keer en die reënboog te laat vaar. Die reënboog is weg. Seker verduister deur ‘n korrupte amptenaar.
Dis toe dat dit my tref. Die reënboog is in die hele Suid-Afrika.
Die rooi is in die beet en in die bloed van die vermoordes, die oranje in die sonsondergange van die Kalahari en die gasstofies se flou vlammetjies wanneer die krag af is, die geel in die suurlemoene en in die mielielande van die Vrystaat, die groen in die Springbokke se truie en die gras op die Drakensberge, die blou in die see by Durban en die pers op die manne van Brakpan en Boksburg se opgewarmde Fords en in hul vrouens se lipstick.