Oom Gerber was verskriklik suinig. Daarby was hy nog nors ook. Die kinders het maar draaie om hom geloop. Oom Gerber het nie geld gemors op skeergoed nie en sy woeste baard en snor het hom boos laat lyk. Sy huis was ook nie altyd netjies nie, want hy het nie baie geld uitgegee op skoonmaakmiddels nie en het geensins die nut daarvan gesien om ‘n skoonmaker in diens te neem nie. Nie eers een dag per week nie.
Die laaste Saterdag van elke maand het Oom Gerber sy pak klere aangetrek, met sy wit langmouhemp wat sou kon doen met goeie strykwerk, en Poskantoor toe geloop om geld op sy spaarboekie te trek en sy rekeninge te betaal. By die Poskantoor het hy in ‘n lang ry gestaan en wag terwyl die sweet deur sy woeste baard stroom. Oom Gerber was wel suinig, maar hyself moes baie lekker geëet het, want sy hemp het styf oor sy maag gespan. Oom Gerber se huis was aan die kant van die dorp en dit was ‘n hele ent Poskantoor toe, maar hy het eerder geloop en in die ry gaan staan, as om met sy kar te ry en vroeg op te daag voordat die Poskantoor besig was.
Oom Gerber het ook op die laaste Saterdag van die maand een dik koevert vol briewe gepos aan sy familie. Almal se briewe was in een koevert, want hy betaal g’n vyf briewe se posgeld as hy alles in een koevert kan pas nie. Die familie moes maar die briewe onder mekaar uitsorteer of aanstuur.
Nadat Oom Gerber by die Poskantoor sy sake afgehandel het, het hy na die kafee en slaghuis oorkant die straat toe geloop. By die kafee het hy vir hom ‘n sakkie Horseshoe tabak gekoop. Oom Gerber het nie flou twak gestop nie. Hy het geglo van die sterk twak gebruik mens minder. Sy pyp se wande was al dun gerook en hy het aan sy kromsteel gesuig totdat daar net fyn as oor was voordat hy weer gestop het.
By die slaghuis was Oom Gerber moeilik. Hy het 2 kilogram se biltong gekoop. Die biltong moes kurkdroog wees, want soos Oom Gerber al in die slaghuis geskel het: “Moenie kom staan en neuk vandag met die nat biltong nie! Nat biltong weeg swaarder en ek kry dus minder. Dan kan ek netsowel my eie biltong maak. Vir wat moet ek die swaar, nat biltong by die huis loop uitdroog? Dis ‘n verneukspul wat hier aan die gang is!”
Die slagter, Mister Schoonbie, het eenkeer met ‘n prag van ‘n blou-oog rondgeloop. Die storie het geloop dat Oom Gerber eendag sy eie loodgewig, wat volgens hom presies 1 kilogram weeg, uit sy broeksak gehaal en op die skaal neergesit het. Die skaal was omtrent 20 gram oor, en die slagter het Oom Gerber se humeur en regtervuis ontmoet.
Nadat Oom Gerber by die kafee en slaghuis was, het hy al kouend aan ‘n stuk kurkdroë biltong met die straat af geloop na die hotel se kroeg toe.
In die kroeg het Oom Gerber gaan sit en die kroegman, Japie, nader geroep. “Hoeveel water gooi jy by daai brandewyn om hom te rek? Hm? Nee wat, boetie, maak maar ‘n nuwe bottel oop. Gooi vir my ‘n dubbel, met baie ys en bring ‘n Coke. Ek sal self mix. Maak die glas vol ys, boetie, daar kan nog ‘n blokkie pas.”
Oom Gerber het glo eenkeer by die apteek of die hospitaal ‘n pipet gaan leen wat presies 50ml kan afmeet en die dubbels in die kroeg die hele Satderdag-middag lank gaan beproef. As iemand hardehout drink, moes dit eers in die pipet in, en dan in die glas in. Herman drink Captain Morgan, Pieter drink Klipdrift, Klaas drink Bell’s, Angelique met die mooi tiete en hees stem drink Red Heart terwyl sy Craven A rook, Irma kap ‘n dubbel gin en tonic, Gerbrand drink Richelieu… So gaan dit aan. Elke keer moet die dubbel eers in die pipet gegooi word om seker te maak die dubbels word korrek afgemeet. Dit vat tyd, en die drinkers bly dors. Laatmiddag toe Oom Gerbrand die pipet laat val, blykbaar nadat Angelique voor hom gebuk het, en die glasskerwe op die vloer blink, het die drinkers hulle glase hoog gehou. Die kroeg het teruggekeer na normaal.
Die ander Saterdag-oggend stap Oom Gerber by die kroeg in. Jaap en sy seun het pas die Coke-masjien klaar geïnstalleer en was trots op die nuwe stukkie tegnologie.
Die drinkers was nie gelukkig met die Coke-masjien nie. Die glasbotteltjies Coke kon hulle deel of elke man of vrou kon twee sterk doppe met een botteltjie Coke drink. Die nuwe gedoente het gemaak dat elkeen elke keer vir die Coke moes betaal. Die drinkers het maar opgedok. Daar was net een kroeg op die dorp.
Oom Gerber was nog nie daar vandat die Coke-masjien op ‘n tafel langs die yskas staangemaak is nie.
Die sweet het op sy hemp uitgeslaan en die kroegstoeltjie het gekraak en gekreun toe hy gaan sit het. “Gooi daar ‘n dubbel, seunie,” het hy vir Japie gesê terwyl hy die sweet op sy voorkop met sy hempsmou wegvee, “en maak maar gou. Die slaghuis het vandag weer my moer goed gepomp met hulle nat biltong.”
Oom Gerber moes lank in die ry by die Poskantoor gestaan het. Dit was al namiddag en die kroeg was goed besig. Hy het die as in sy pyp aan die brand gekry en die steel warm getrek. Japie het sy dop gegooi. “Sjorrrrr,” het die Coke-masjien die koeldrank oor die dubbel brandewyn en baie ys in die glas getap.
Oom Gerber het onmiddelik opgekyk toe hy die nuwe geluid hoor. Hy het die kromsteel agter sy voortande in die hoek van sy mond gehaak en die pypkop het wegglê in sy baard. “Nou wat de DONNER vang jy nou aan, mannetjie!” het sy stem gebulder terwyl blou rookwolke by sy neusgate uittrek.
Die drinkers het almal stilgebly toe hulle Oom Gerber se stem hoor. Hulle het sommer geweet daar kom kak. Die sigarette het stadig in die asbakkies verbrand. Die glase in die hande het nie aan die lippe geraak nie. Angelique het haastig haar mini-rompie reggetrek sodat die voutjies van haar boude nie uitsteek nie. Iemand het die klank van die televisie in die hoek sagter gedraai. Die Bokke was in elk geval besig om naam te ruk en kak droog te maak.
“As ek ‘n brandewyn met baie ys en Coke koop, dan koop ek fokken wat, mannetjie?” het Oom Gerber se stem voort gebulder.Hy het opgestaan en vir Japie aangegluur. Hy het gewag vir ‘n antwoord.
“Ek..ek..”het Japie begin.
“Jy wat? Jy bring vir my ‘n dubbel brandewyn, baie ys en ‘n Coke!”
“J…Ja…” het Japie gestamel en gewens sy pa, Jaap, was daar.
Oom Gerber het opgestaan, die toonbank aan die kant van die kroeg opgelig, deur geloop, die blad agter hom laat val, en en langs Japie gaan staan. “Kyk nou mooi, mannetjie! Kyk en verstaan, want wragtig, vandag bliksem ek jou!”
Dit was tjoepstil in die kroeg. Almal het mooi gekyk. Iemand het die televisie heeltemal afgeskakel.
Oom Gerber het ‘n skoon glas van die rak af gehaal. Hy het dit gevul met ys en daarna met Coke uit die masjien. Hy het nog ‘n glas van die rak af gepluk, die ys in die glas terug gehou met sy vingers en die inhoud in die glas gegooi. Die Coke het die glas skaars kwart vol gemaak.
Oom Gerber het toe nog ‘n skoon glas van die rak af gehaal en ‘n glasbotteltjie Coke uit die yskas geruk. Hy het die prop teen die rand van die toonbank af geslaan en die Coke in die glas gegooi. Die glas was amper vol.
Hy het die twee glase in die lug gehou; in Japie se gesig. In sy linkerhand was die glas wat kwart vol was met masjien-Coke en in die regterhand was die glas vol Coke uit die botteltjie.
Oom Gerber het weer gebulder. “Kyk nou na hierdie twee glase en dan verduidelik jy vir my wat die verskil is!”
Japie het met groot oë gekyk en begin stamel. “Die een het net ‘n bietjie Coke in…”
“Korrek, Japie! Korrek! Die een het net ‘n bietjie Coke in, want jy is besig om my te bevark! Is jy kop in een mus die slaghuis?”
Jaap was by die ontvangstoonbank van die hotel besig en het die petalje in die kroeg gehoor. Hy het besluit hy sal moet gaan help, ander word sy seun gebliksem. Hy het deur gestap na die kroeg toe. Hy het geskrik toe hy sien hoe kwaad is Oom Gerber.
“Van nou af is die prys van die masjien-Coke net ‘n kwart van die prys van die botteltjie,” het hy vinnig gesê.
“En wat van al die verneukery wat hier aangegaan het die afgelope ruk?” het Oom Gerber gevra.
“Ja, en ‘n rondte op die huis vir almal in die kroeg,” het Jaap bygevoeg en vir Japie beduie hy moet begin gooi.
Die drinkers het gejuig. “Op Oom Gerber!”
Angelique wou haar top vinnig vir Oom Gerber oplig, want sy het juis nie ‘n bra aangehad nie, maar Jaap het in die pad gestaan. Sy het haar Red Heart en Coke vinnig gedrink.
Oom Gerber het sy glas vasgevat en stadig gedrink. Hy het sy pyp teen sy skoen uitgeklop en die fyn as het oor die vloer gewaai. Toe het hy sy pyp tydsaam met vars twak gestop en ‘n vuurhoutjie geleen om dit brand te maak. Die mense in die kroeg het weer ontspan en verder gedrink.Oom Gerber het vir Japie fyn dopgehou en die een knerts na die ander in sy keel af gegooi.
Die dorp het vir ‘n week gegons na die voorval in die kroeg. Oom Gerber was bekend as ‘n suinige suurknol, maar nou ja, hy het afslag op die hardehout en Coke gekry, en ‘n gratis dop vir almal in die kroeg.
‘n Mens moet ook onthou dat Oom Gerber elke Sondag in die kerk was. Hy het ook sy deel van die kollekte bygedra, wel effens anders, maar hy het. Soort van. Hy sou byvoorbeeld ‘n vyfrand-noot in die bordjie gooi en dan R4-50 se kleingeld uit die bordjie aan homself uitkeer wanneer hy nie die korrekte bedrag kleingeld gehad het nie. Oom Gerber het elke tweede Sondag 50c bygedra. Oom Gerber het nie ‘n tiende bygedra nie, meer iets soos ‘n duisendste. Tydens Nagmaal het Oom Gerber diep uit die blinkgevryfde silwerbeker gesluk. Die beker was eenkeer gevul net voordat dit by Oom Gerber gekom het, en die lidmaat wat langs Oom Gerber gesit het, moes vir die diaken wys om weer die beker te vul toe hy dit by Oom Gerber ontvang het. Oom Gerber het seker maar baie van rooiwyn gehou.
Die jaart agter Oom Gerber se huis was ‘n ander storie. Oom Gerber se agterjaart, soos die ander erwe, was baie groot. As jy by die krakende agterdeur van Oom Gerber se huis uit geloop het, was daar ‘n terras van so tien meter breed voor jou. Dan het die grond skerp skuins af geloop en onder in ‘n moeras geëindig waar die biesies en fluitjiesriet dig gestaan het. Die moeras was ‘n lushof vir die vinkies en hulle netjiese grasnessies het in bondels aan die riete gehang.
Die leivoor het voor die huise verby geloop. Oom Gerber se leibeurt was sy beurt. Op die terras het daar ‘n ry geelperskebome gestaan. Oom Gerber het egter sy leibeurt eintlik misbruik en al die water teen die skuinste laat afloop tot in die moeras. Oom Gerber was te suinig om iemand anders die water te laat gebruik, daarom het hy met elke leibeurt die water afgekeer en in die moeras in laat loop. Die moeras was in die somermaande ‘n broeiplek vir swerms muskiete, paddas en slange en die bure was nie baie gelukkig daaroor nie. Oom Gerber het ook die waterfiskaal met arendsoë dopgehou en as iemand net uit sy beurt gelei het, was daar groot moeilikheid.
Die geelperskebome was die trots van Oom Gerber. Elke einde Oktober het die bloeisels dig aan die takke geblom. Wanneer die perskes begin ryp word het, het die takke swaar gehang. Oom Gerber se geelperskes was nie waterig en smaakloos nie, nee, sy perskes was groot, vlesig, styf, soet, smaaklik en baie lekker. Die lekkerste in die hele kontrei. Sy perskebome het genoeg son gekry en nooit te veel water nie. Op die terras waar die bome gestaan het was dit net droog genoeg.
Oom Gerber kon nooit al die perskes eet nie. Hy het net ‘n paar geëet en die res laat af val en vrot word. Dan het hy dit weer in die grond in gewerk saam met vragte vol bemesting wat hy verniet by die rioolwerke gekry het. Die tamatieplante het welig gegroei onder die perskebome.
Die dag toe Oom Gerber oorlede is, stil en eensaam op ‘n stoel in die sitkamer van sy huis, het die prokureur, Brinkman, sy hande deur sy hare gevryf, ‘n stywe skoon dop afgesluk, ‘n sigaret aangesteek en aan Oom Gerber se testament begin werk.
Oom Gerber se testament het so baie erfgename gehad en elkeen het so ‘n klein bietjie geëerf, dat hulle erfporsies eintlik nutteloos was. Selfs in die graf was Oom Gerber suinig.
Daar was maar min mense by die begrafnis. Oom Verwey het na die tyd in die kerksaal ‘n paar woorde gesê. Oom Verwey was al oor die tagtig en het swaar op sy kierie geleun. “Dit was die droogte, die Tweede Wêreldoorlog, die jare van depressie en nog ‘n droogte wat dit aan die man gedoen het. Sy siel het geknak. Tydens die droogte het die skape mekaar se wol gevreet, so droog was dit.”
Monja, Oom Gerber se dogter en enigste kind, het van die stad af gekom vir die begrafnis. Sy het ‘n skinkbord vol koppies, ‘n beker kookwater en ‘n klein bekertjie vol melk gebring. In die suikerpot was ‘n vurkie.


