Lekker, die lente is hier. Verbeel ek my of is daar ‘n effense koue byt in die lug? Seker maar die winter se laaste stuiptrekkings.
Die Blog waar Die Wolf in Afrikaans sy bek rek.
Die dorpie in Mpumalanga. Ek het verlede week besluit om bietjie te gaan kyk hoe lyk dit daar en het die afgelope naweek sommer so gemaak. Ek en Liefie het Saterdag-oggend vroeg in die pad geval.
Roodepoort, Springs, Devon, Leandra, Kinross, Trichardt (Daar was ‘n stalletjie in die hoofstraat waar wors gebraai word en boeries verkoop word. Heerlike ontbyt gewees.), Bethal, Ermelo (die pad daardeur is nogal deurmekaar maar ons sien toe sommer die woonbuurte ook) en dan met die R65 tot in Amsterdam. Die pad was heel goed gewees en nogal stil.
Glen Oak Lodge
Die plek waar ons oorgeslaap het. Daar is selfs ‘n plekkie waar troudienste gehou kan word. Die chef maak baie lekker kos. Die tuine is pragtig, selfs in die winter.
Kliek op die fotos om ‘n effens groter weergawe te sien. Ek het die fotos maar baie kleiner gemaak sodat die inskrywing korter as ‘n ewigheid neem om te laai.
Die hoofstraat in Amsterdam was besig. Dit was die einde van die maand en die besighede het fluks sake gedoen. Veral die drankwinkels.
‘n Kalkoen wat in die tuin rondloop.
Die kroeg.
Hier het ons later die middag en na aandete lekker gekuier.
Wanneer ons ‘n plek besoek, maak ons gewoonlik ook ‘n draai by ‘n slaghuis om die plaaslike biltong te proe en sommer net te gesels. Hierdie slaghuis was alreeds toe. 
Ons het die omgewing dus maar gaan verken sonder ‘n pakkie biltong.
Daar is baie plantasies in die omgewing. 
Ons het lekker rustig en stadig gery om die omgewing te verken, en ook maar goed so want plaasdiere in die pad was algemeen.
Die kronkelpad wat na Piet Retief toe loop. 
Ek neem maar aan hierdie toring word gebruik om te kyk vir brande.
Tyd om ‘n koue koeldrank te koop.
Ghobosh Trading en Crane Feeds.
Ghobosh Trading. Ek het gesien buitekant Amsterdam is daar ook ‘n riviertjie met die naam “Ghobosh”.
Die Jericho dam is naby Amsterdam.
Ons het lekker geëet, gekuier en geslaap by Glen Oak Lodge. Amsterdam is ‘n klein plekkie, maar bied baie om te sien. Die groen plantasies is ‘n welkome afwisseling vir die droë en vaal grasvelde van die winter. Ons sal Amsterdam beslis weer besoek.
6
May
Die kerk in Pella, naby Pofadder. As jy eendag hier kom, kyk uit vir Jan Pieterse. Jan se ondernemingsgees en dranklus het hom laat plan maak. Hy nader besoekers en vra ‘n donasie sodat hy ‘n rugbytrui of sokkertrui kan koop. Of op ‘n rugbytoer of een of ander sporttoer kan gaan. Hy kort dan ook net R150 of R65 ensovoorts.
As Jan die quarts bier afsluk, verbeel hy hom seker hy is ‘n sportster. In die geval moes Jan maar tevrede wees met ‘n paar sente. Ek ken al sy streke, so toe wou hy nie vir ‘n kiekie stilstaan nie. Nietemin weet Jan waar om die Suster van die kerk op te spoor. Neem sy advies oor die toestande van die paaie na die rivier en die pad na Goodhouse maar met ‘n knippie sout.
6
May
Die Pienk Padstal in Kakamas. Dit is die moeite werd om daar te stop met al die lekker eetgoed en interresante artikels wat verkoop word.
6
May