Die Blog waar Die Wolf in Afrikaans sy bek rek.
30
Jul
Daar is verskeie maniere om die klankbaan van ‘n DVD af te “rip”. Jy kan byvoorbeeld die klank op jou hardeskyf opneem vanaf jou rekenaar se klankkaart terwyl die DVD speel. Dit vat lank. Jy moet die hele DVD speel terwyl die klank opneem en as jy op jou rekenaar werk kan daar “beep” en “peep” geluide bykom.
Om sagteware te gebruik wat die DVD direk na MP3 toe “rip” is ook nie juis ‘n goeie idee nie. Jy kan later die klankbaan wil opdeel in “tracks” en elke keer wat jy die MP3 lêer invoer, verander en weer uitvoer, gaan van die klank se gehalte verlore. Dit is dus beter om die DVD se klank te stoor in byvoorbeeld Waveform of FLAC formaat. Jy kan dan die klankbaan redigeer en wanneer jy tevrede is, die finale produk uitvoer na MP3 formaat. Dan kan jy luister na ouma wat in die kerkkoor sing op jou MP3-speler of in die kar speel terwyl jy werk toe ry.
Jy benodig:
1. Die DVD
2. Genoeg stoorplek op jou hardeskyf.
3. ‘n “Transcoder”. Laai solank MediaCoder af en installeer.
4. Jy moet weet hoe om die “.VOB” lêers op ‘n DVD te vind. Lees deur die vorige inskrywing indien jy nie weet hoe nie. Jy kan of direk vanaf die DVD werk, of eers die “.VOB” lêers na jou rekenaar se hardeskyf toe kopieër en van daar af werk. Vanaf jou hardeskyf kan jy die lêers uitwis wat die menus se beelde en klank en ander goed bevat waarna jy nie wil luister nie.
Metode:
Nadat jy MediaCoder geïnstalleer het, maak die program oop. Jy sal sien dat jou verstek blaaier ook oopmaak en na MediaCoder se webtuiste toe gaan. Lees maar daar deur as jy wil.
MediaCoder nadat die program oopgemaak het. (Kliek op die prentjie om ‘n groter weergawe te sien.)
Dit mag dalk lyk asof daar genoeg opsies en knoppies en goed is om ‘n vliegtuig te laat opstyg, maar dit is heel maklik om te gebruik.
Net onder “Total Tasks” sal jy sien daar is ‘n klomp knoppies. Audio, Video, Demuxer, Muxer… ensovoorts. Jy gaan net “Audio” en “Video” gebruik.
Hier is die twee knoppies met rooi omkring:
Kliek nou op die “Audio” knoppie. Verstel die Audio se opsies as volg:
By die “Source” kan jy maar “Auto Select” merk.
BY “Encoder” kies jy “Waveform”. Kyk mooi, daar is ‘n “WavPack” ook, moenie dit kies nie.
“Resample” kan jy laat as “Original”.
“Channel” kan jy laat as “Original”, maar dit kan makliker wees om met die lêer later te werk as jy ”Stereo” kies.
Die “Audio ID” kan jy maar ooplaat of die waarde los indien daar een is.
By “Gain” kan jy dit maar 0dB los.
Aan die regterkant, onder die “PCM” knoppie, merk jy by die “Output” die “Waveform File” opsie.
Dit is dan die “Audio” se verstellings. Die “Video” s’n is nog makliker.
Kliek op die “Video” knoppie en dan maak jy seker “Enable video” is NIE gemerk NIE.
Daarsy. Jy is nou klaar met die verstellings. Nou kan jy net die “.VOB” lêers byvoeg en begin “transcode”.
Jy kliek nou op die “Add” icon en dan op “Add File”. Jy sal sien dat jy sommer die hele folder ook kan byvoeg, maar dit is raadsaam om eers net een lêer by te voeg en die lêer te transcode sodat jy kan sien of die proses vlot verloop.
Nadat die dialoog oopgemaak het, navigeer na die “.VOB” lêers toe, kliek op die lêer wat jy wil transcode en kliek op “Open”. Onthou as jy direk van die DVD af werk, moet die DVD in die aandrywer wees en die aandrywer moenie in gebruik wees nie.
Jy sal sien dat die “.VOB” lêer nou bygevoeg is.
Nou moet jy nog net die “Output Folder” spesifiseer. Indien die “.VOB” lêers op jou hardeskyf is, kan jy dit laat as “<Original Folder>” of jy kan ‘n ander folder skep en deur op die knoppie met die “…” te kliek na die folder toe navigeer. Indien jy direk vanaf die DVD werk, sal jy ‘n folder op jou hardeskyf moet spesifiseer.
Jy is nou gereed. Transcode die lêer.
Kliek op “Transcode” en dan “Start Transcoding” of druk net “F5″ op jou sleutelbord.
Die proses al begin. Kliek op die prentjie hier onder vir ‘n groter weergawe.
Wanneer die proses klaar is, sal jy ‘n boodskap “Task completed” met nog inligting kry. Kliek dan net op “OK”.
Maak nou jou “Output Folder” oop en kyk vir die “.wav” lêer.
Dubbel-kliek op die “.wav” lêer. Jou media player sal oopmaak en die klank speel.
Foutopsporing:
1. Hoekom is die “.wav” lêer so verskriklik groot?
Waveform is ‘n “lossless” formaat. Jy kan dan die klank redigeer sonder om kwalitiet te verloor en dan die finale produk een maal uitvoer na MP3 toe, wat baie kleiner sal wees.
2. Die gehalte van die klank is baie swak.
Die rede vir swak klank is waarskynlik omdat die oorspronklike klankbaan op die DVD swak is. Kyk na die DVD deur dit in die aandrywer te plaas en te speel en vergelyk die klank.
3. Error loading PCM. No file is outputed.
Jy werk direk van die DVD af wat in die aandrywer is en jy het die “Output Folder” as <Original Folder> gelaat. Wanneer jy direk van die DVD af werk, spesifiseer ‘n output folder op jou rekenaar se hardeskyf.
28
Jul
Daar kan baie redes wees waarom jy die DVD vanaf jou hardeskyf wil speel en nie die skyf in die DVD-aandrywer van jou rekenaar wil sit en dit van daar af speel nie. Jou pakplek in daai nuwe klein townhouse kan dalk oorgeneem word deur die DVD’s wat jou ouma, wat in Hermanus bly, vir jou elke week van die skulpies wat sy op die strand optel pos omdat jy vir jou oupa ‘n DVD camcorder gekoop het laas Kersfees. Jou nuwe rekenaar met die 5 TB se spasie op die hardeskywe neem baie baie minder plek op en jy kan die DVD’s in die garage in ‘n boks gaan indruk. Jyself wil dalk so met een oog na jou gunsteling fliek of musiekvideo kyk terwyl jy besig is om vir jou ouma fotos van Johannesburg na ‘n DVD toe te skryf en jou rekenaar het net een DVD aandrywer.
Dalk het jy jou gat af gespaar om jou gunsteling DVD’s te koop en jy kyk dit elke Vrydag terwyl jy braai en bier drink en jy wil nie dat die skyf krap en verniel as jy heeltyd met jou vetterige hande die DVD’s moet omruil nie.
Wat ook al jou redes, laat ek begin. Hierdie is ‘n kort, vinnige en relatief maklike manier om die DVD van jou hardeskyf af te speel en dit op jou rekenaar te kyk sonder om die oorspronkile DVD skyf elke keer te gebruik.
Neem kennis: Nie al die DVD’s kan met hierdie metode na jou hardeskyf gekopieër en van daar af gespeel word nie. Party DVD’s word deur die vervaardigers en verspreiders beskerm en jy het nog meer sagteware en kennis nodig, waarin ek nie hier gaan ingaan nie.
Daar is baie maniere om ‘n donkie te maak loop. Hierdie is vir my die maklikste metode sonder om geld uit te haal vir ekstra sagteware.
Jy benodig:
1. Die DVD.
2. Jou rekenaar moet ‘n DVD-aandrywer hê.
3. Genoeg oop spasie op jou hardeskyf.
4. ‘n Lekker media player. Nie Oom Bill s’n nie. Jy kan Oom Bill s’n gebruik, maar dan moet jy eers sukkel.
Kies een van die volgende en laai solank af. Die twee skakels hieronder maak in ‘n nuwe venster oop.
b. Kantaris
VLC is so ‘n rapsie oor 9 Mb en Kantaris omtrent 8.5 Mb. Vir hierdie voorbeeld gebruik ek Kantaris.
Kantaris is op VLC geskoei en speel omtrent enige videos of musiek, sonder om van codecs gebruik te maak.
Metode:
1. Haal die DVD uit sy kassie, maak die laaitjie van die DVD speler van jou rekenaar oop, plaas die DVD skyf daarop en maak die laaitjie toe. Sit die DVD se kassie aankant.
2. Wag ‘n paar sekondes. Indien jou verstek media player, byvoorbeeld Windows Media Player self oopmaak en die menu van die DVD vertoon of die DVD begin speel, maak die speler toe. Indien Windows ‘n venster oopmaak en byvoorbeeld vir jou opsies gee om die lêers te besigtig, of die DVD te speel met watter speler ook al, maak toe. Selfs al kry jy foutboodskappe, maak toe. Jy maak toe as enige iets gebeur nadat jy die DVD speler se laaitjie toe gemaak het. Die rede hoekom jy selfs die foutboodskappe moet toemaak is dat jou rekenaar dalk codecs kort en Windows Media Player daarom rondneuk. Dit sal later aandag kry.
3. Kliek nou links onder by jou desktop op “Start”, dan op “My Computer” en dan onder “Devices with removable storage” regs-kliek jy op jou DVD. Jy kies dan “Explore”.
Prentjies.
Nadat jy op “Explore” gekliek het, sal al die lêers op die DVD vertoon word, i.p.v. dat die DVD begin speel.
Hier is ‘n voorbeeld van die lêers en lêergidse op ‘n DVD.
Die lêergids waarin jy gaan belangstel is die een genaamd “VIDEO_TS”.
Regskliek nou op VIDEO_TS en kies weer “Explore”.
Al die lêers in VIDEO_TS sal vertoon word. Jy gaan ook nie al die lêers gebruik nie, maar net die lêers met die “.VOB” uitbreiding / “extension”.
Dis is maklik om al die “.VOB” lêers te vind. Kliek op die “Views” icon en kies “Details”.
Dan regskliek jy op ‘n oop spasie en kies “Arrange icons by Type”.
Nou is al die icons mooi gegroepeer volgens soort en kan jy die “.VOB” lêers maklik kies.
Hou die “Ctrl” sleutel in en linkskliek op al die lêers met ‘n “.VOB” uitbreiding.
Regskliek op enige van die lêername wat jy gemerk het en kies “Copy”.
Nou kan jy jou “Desktop” of “My Documents” oopmaak. Jy maak die plek oop waar jy ‘n nuwe folder wil skep om al die “.VOB” lêers te stoor. Gaan byvoorbeeld na “Start”, “My Documents”, regskliek op ‘n oop spasie, “New” Folder” en tik die naam in. Dubbelkliek dan op jou nuwe folder om dit oop te maak, regskliek op ‘n oop spasie en kies “Paste”.
Dit kan nou ‘n hele tydjie neem om al die “.VOB” lêers na die folder op jou hardeskyf toe te kopieër. Dit sal afhang van die spoed van jou rekenaar, hoeveel ander programme oop is ensovoorts. Wag totdat al die lêers suksesvol gekopieër is.
Maak die venster waar jy die DVD ge-”explore” het toe, en dan kan jy maar die DVD uit die aandrywer haal, dit in die kassie plaas en bêre.
Nou maak jy Kantaris oop. Dubbelkliek die icon op jou desktop, of kies Start, All Programs en kliek op Kantaris.
Wanneer Kantaris oopgemaak het, kliek jy op die “Playlist” icon.
Die “Playlist” sal aan die regterkant van Kantaris oopmaak, maar dit sal leeg wees. Jy moet die “.VOB” lêers byvoeg.
Kliek op die plus icon.
Nadat jy die plus icon gekliek het, sal ‘n dialoog oopmaak.
By “Look in” navigeer jy na die folder toe waarin jou “.VOB” lêers is.
“File name” kan jy los as openFileDialog
en by “Files of type” kies jy All files (*.*)
Hou dan weer “Ctrl” in en links kliek op al die “.VOB” lêers. Nadat jy almal gekies het, kliek op “Open”.
Dit kan ‘n rukkie neem en lyk asof daar niks met Kantaris gebeur nie, maar wag net geduldig en al die lêers sal tot die playlist bygevoeg word.
Kliek op die eerste naam in die playlist wat aan die regterkant van Kantaris sal verskyn, en kliek op die “Play” knoppie.
Die DVD sal begin speel vanaf jou hardeskyf.
Bogenoemde kan baie lank en omslagtig lyk, maar dit is eintlik baie vinnig.
Opsomming:
Kopieër al die “.VOB” lêers op die DVD na ‘n folder op jou hardeskyf. Wanneer al die lêers gekopieër is, kan jy die DVD maar bêre.
Maak Kantaris oop, en voeg al die “.VOB” lêers vir die betrokke DVD wat nou op jou hardeskyf is, by tot Kantaris se playlist.
Kliek die “Play” knoppie en kyk jou DVD.
Foutopsporing:
1. Die DVD se “menu”.
Die DVD se menu gaan nie meer werk nie. Die beelde en klank wat deel van die menu uitmaak, is egter steeds deel van die “.VOB” lêers. Jy kan maar net die “Next” knoppie kliek om dit te skip. “VIDEO_TS” sonder enige ander nommers by en al die ander lêers met name wat op ‘n 0 (nul) eindig is gewoonlike beelde en klank vir die menus. Jy kan hierdie lêers maar uitvee as jy sien dit is alles menu klank en beelde.
2. Die uitbreidings (extensions) van die lêers.
Indien jou rekenaar nie die extensions van die lêers vertoon nie en jy sukkel om te weet watter van die lêers op die DVD is die “.VOB” lêers, doen die volgende:
Tools - Folder Options - View, en dan onder Advanced Settings maak jy seker Hide extensions for known file types is NIE gemerk NIE. Dit kan nodig wees om die venster toe te maak en weer op te maak voordat die extensions dan vertoon word.
3. Die Playlist
Jy kan die playlist stoor. By Kantaris is daar ‘n opsie om die playlist te save. Volgende keer wat jy die video wil speel, kan jy net die gestoorde playlist met Kantaris oopmaak. Stoor al jou playlists in ‘n folder met name soos “Ouma tel skulpe op”, “Boetie sing in die skoolkoor”, “Sussie se musiekvideo” ensovoorts.
4. Kopieër
Stoor een stel “.VOB” lêers in een folder, met ander woorde elke DVD se lêers in ‘n aparte folder. Indien jy die folders hernoem of verskuif, sal jou playlist nie meer werk nie omdat die lêers dan op ‘n ander plek of onder ‘n ander folder is. Vee dan die ou playlist uit, maak ‘n nuwe een en save weer.
5. Die video speel rukkerig.
Maak al die programme toe wat jy nie gebruik nie. Indien jy ‘n nuwe program oopmaak, kan die program vir ‘n oomblik baie van jou rekenaar se CPU gebruik, die hardeksyf besig wees en die video kan rukkerig vertoon terwyl die program oopmaak. Wanneer die program klaar oopgemaak het, behoort die video weer gladweg te speel.
Defrag jou hardeskyf sodat die lêers mooi op een plek is en nie die hele plek vol lê nie.
6. Die video wil nie speel nie, die beeld is vol snaakse kleure wat lyk asof jy M-Net probeer kyk nadat jy nie jou rekening betaal het nie en die klank is so opgeneuk dit is onhoorbaar.
Die vervaardiger of verspreider het die DVD so gekodeer dat jy dit nie kan kyk as jy dit gekopieër het nie of jou ouma is ‘n boffin en het die DVD so gekodeer dat jy jou gat af moet sukkel voordat jy dit kan kyk. As die DVD deur die aandrywer nie wil speel nie en ook nie in Windows Media Player nie, kort jy dalk net ‘n paar codecs. Soek by download.com vir ‘n free codec pack of gebruik Google om vir ‘n free codec pack te soek.
Hier is ‘n goeie een om mee te begin: http://www.mediacodec.org/
Kantaris gebruik nie codecs nie, maar dit kan jou help om die DVD met die aandrywer in Windows Media Player te speel.
7. Hoeveel DVD’s kan jy so op jou hardeskyf stoor?
Dit hang af hoe groot jou hardeskyf is en hoeveel oop spasie beskikbaar is. As jy 400GB se spasie beskikbaar het en jou DVD’s se gemiddelde groote is 4GB, kan jy ongeveer 100 so stoor. Vee al die “.VOB” lêers wat beelde en klank vir die menu is uit om meer plek te bespaar.
11
Jul
die naweek is hier, maar ek dink nie ek sien kans vir koue bier nie. ‘n Cuppuccino sal maar moet doen.